EG Kerk, Tzaneen

Evangelies Gereformeerde Kerk
Tzaneen Gemeente
Die predikantspaar van die E G Kerk, Ds. Hendrik en Ina Janse van Rensburg, is hierdie jaar 30 jaar voltyds in God se diens, waarvan 15 jaar in die Tzaneen gemeente is. Daarvoor alle eer aan ons Hemelse Vader.
Gedurende hierdie tyd het hulle 'n besondere rol in die gemeenskap gespeel en hou vol om so te doen. Mev Van Rensburg is Voorsitster van die SAVF Diensbestuur asook van die SAVF Tzaneen Kleuterskool
Sy staan haar man by as predikantsvrou op 'n wyse wat spreek van die Bybelse vrou wie se waarde ver bo korale is.
Hulle het vier kinders, Zarius, Hennie, Hendus en Iseldri. Al vier het leiersposisies beklee beide in Tzaneen Laerskool en Hoërskool Ben Vorster.
Die egpaar beskou dit as 'n uitnemende voorreg om hul kinders hier op die platteland te kon grootmaak, in hierdie liefdevolle gemeente en gemeenskap.
Onder leiding van ds Hendrik is die gemeente baie aktief. Naas twee eredienste elke Sondag om 09h00 en 18h00 is daar ook elke Woensdagaand biduur om 19h00, biduur net vir die manne elke vrydagoggend om 06h00, asook dames Bybelstudie elke Donderdag om 11h00 en 16h00 onder leiding van Ina. Daar is ‘n lewendige kinderbediening, kategese onderrig en kleuterkerk in die gemeente asook geestelike konferensies en aktiewe sendingaksies. Daar word ook nie weggeskram daarvan om moeilike onderwerpe te hanteer nie en kenners word ingeroep om dit te behandel. Daar was alreeds vanjaar 'n reeks oor Geestelike Oorlogvoering deur ds Peet Schoeman en daar is vir later vanjaar, einde Augustus, 'n reeks oor die profesieë en die wederkoms deur ds Gert Coetzer beplan. Die E G Kerk hou ook op gereelde basis manne-, vroue- en gesinskampe.
Die pastorie se deur staan altyd oop vir geestelike raad en ondersteuning asook huweliks- en gesins verryking.
2015 is deur die E G Kerk as jaar van verootmoediging uitgeroep. In hierdie moeilike tye waarin ons lewe moet ons, ons voor God verootmoedig en Hom om hulp vra. Op hierdie oproep antwoord Tzaneen gemeente met oorgawe “Ja” en daar is vele geleenthede tot verootmoediging in die gemeente se program.
Huidiglik is die tema Herlewing onder die soeklig in die oggenddienste terwyl die aanddiens handel oor Die Krag van die Bloed van Jesus Christus.
Die E G Kerk is 'n anker waar die Evangelie suiwer verkondig word en die Bybel in totaliteit onbeskaamd as die Woord van God erken en eerbiedig word. Dit is ons passie en begeerte om verlore siele by die kruis van Jesus Christus uit te bring. Ons gemeente is groot genoeg om u te akkommodeer en klein genoeg om u te waardeer!
Ds Hendrik en Ina is altyd tot u beskikking.
In God se diens tot u diens!
Kontak: 015 3073371
www.egkerktzaneen.co.za
Die Ontstaan van die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika
Die Kerk is gestig op 21 April 1944 deur 49 Kerkraadslede van die N.G.Kerk, Smithstraat, Durban, onder die naam "Die Nuwe Protestantse Kerk in Afrika".
Op 18 Augustus 1986 is die naam van die Kerk deur die Sinode verander na die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. Die rede vir die naamsverandering was die voortdurende verwarring en assosiëring van die Kerk met die Pinksterkerke, terwyl die Kerk baie duidelik in die Gereformeerde stroom is, maar met 'n sterk Evangeliese karakter.
Daar is gemeentes in al nege provinsies van Suid-Afrika. Kenmerkend van die Kerk is die eenvoudige en verstaanbare boodskap wat onder inspirasie van die Heilige Gees na die mens gebring word onder die leuse: "So sê die Here"
Die Grondslag van die Kerk
Die Kerk is gefundeer op die Heilige Skrif, die onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk, op grond van Gods Woord bely, is Evangelies-Gereformeerd en dit word uitgedruk in sy evangeliese belydenis en ook die Gereformeerde belydenisskrifte, nl.
- Die drie formuliere van Enigheid en Die Evangeliese Belydenis;
- Die Kerk aanvaar die Formuliere as ondergeskik aan die Woord van God.
Die Boodskap van die Kerk
Tereg kan ons met die apostel Paulus gesê word: "Want ek het my voorgeneem om niks anders onder julle te weet nie as Jesus Christus en Hom as die gekruisigde". Die kruisboodskap wat deur die Kerk uitgedra word sluit die volgende in:
- Die verlossing en redding van verlore sondaars (Ef 1:7) en dat 'n mens in hierdie lewe sekerheid van saligheid kan bekom (1 Joh 513)
- Die vervulling met die Heilige Gees (Ef 5:18) en Heiligmaking wat die wil van God is vir Sy kinders (1 Thess 4:7,8)
- Die persoonlike Wederkoms van Jesus voor die 1000 jarige Vrederyk (Openb 19,20)
- Die Genesing van die liggaam op grond van die Versoening van Christus Jesus (Matt 8:17,18)
Vorm van Aanbidding
Kenmerkend van die vorm van aanbidding is dat dit ordelik, meelewend en onder leiding van die Heilige Gees geskied. God staan sentraal in hierdie vorm van aanbidding, want aan Hom kom toe al die waardering, lofprysing en dank in die erediens terwyl die mens sekondêr is.
Oggenddienste:
Tydens die oggenddienste sing ons hartlik saam vanaf die databord. Ons maak gebruik van Psalms en Gesange, Hallelujaliedere, Liedboek en koortjies. Die voorlees van die Wet, of die samevatting daarvan, asook die lees van die Geloofsbelydenis word in die ritus van die erediens ingesluit.
Aanddienste:
Die aanddiens word gekenmerk deur vurige evangeliese boodskappe wat gerig word tot verlorenes om diegene wat gewillig is om hulle te bekeer, te lei tot sekerheid van saligheid. Tydens die aanddienste word daar uit die Hallelujasangbundel gesing.
Erediens bywoning:
Die Kerk beskou die bywoning van eredienste as uiters belangrik, enersyds om lidmate in die geloof te versterk en tot geestelike volwassenheid te lei en andersyds om persone te help om tot geloof in Christus te kom. Die Kerk maak gebruik van die 1933 Standaard Vertaling as Kanselbybel.
Opsommende Leerstellings van die Kerk
- Die Bybel is die onfeilbare en ewige Woord van God en is woordeliks geïnspireer.
- God is enig in Wese en tog onderskeie in drie Persone, nl. Vader, Seun en Heilige Gees.
- Jesus is die ewige en enige Seun van God, wat die enigste Middelaar tussen God en die mens is.
- Die mens is van nature in 'n vervalle toestand. Sy totale verdorwenheid en onvermoë tot geestelike deugde maak Wedergeboorte noodsaaklik om die Koninkryk van God te kan beërwe.
- Die verlore sondaar kan redding uit sy verlore stoestand alleen deur die genade bekom, deur geloof in die plaasvervangende dood en die gegote bloed van Jesus Christus ons Heer, opgestane Heiland en Verlosser.
- 'n Persoon moet deur belydenis en bekering van sonde Jesus Christus bewustelik aanneem as sy persoonlike Saligmaker en Verlosser, waar God die werk van Wedergeboorte in die hart van die mens doen, sodat hy hemel toe kan gaan. Wedergeboorte is dus 'n daad wat God doen op grond van die Versoeningsbloed van Christus, wat die mens bewustelik in hierdie lewe ondervind en waardeur hy sekerheid van saligheid ontvang.
- Die Vervulling met die Heilige Gees vir die kind van die God is noodsaaklik. Dit stel hom instaat om heilig en oorwinnend te lewe asook om vir God te getuig en siele vir Christus te wen - d.i. die ampsbediening van die gelowige.
- Die ware Kerk, die liggaam van Christus, bestaan uit almal wat weergebore is oor die ganse wêreld, van watter taal, land of nasie hulle ook mag wees. Daarom mag alleen hulle wat lede van hierdie Kerk is as lidmate van die Gemeente en so van die Kerkgenootskap toegelaat word.
- Jesus Christus, aan die regterhand van God die Vader, waar Hy nou vir Sy kinders voorspraak doen, is die enigste Hoof van die Kerk.
- Christus se groot sendingopdrag aan sy Kerk, "Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom", moet gehoorsaam word deur plaaslike en wêreldwye evangelisasie.
- Die personlike Wederkoms van Jesus Christus voor die duisendjarige Vrederyk word bely. (Die Wederkoms van Christus geskied in twee fases. By die eerste fase, wat net tot in die lug sal wees, kom Jesus sy kinders wegneem. By die tweede fase kom Hy tot op die aarde om hier saam met sy heiliges te regeer). Hierdie beskouing van die Wederkoms staan bekend as Chiliasme.
- Die Kerk bely die opstanding van die verlostes tot die ewige lewe en vreugde in die hemel en die opstanding van die verlorenes tot die ewige straf - die poel van vuur.
Doelstellings van die Evangelies-Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika
Die Kerk stel hom die volgende ten doel:
- Om die Drie-Enige God te verheerlik en sy Koninkryk uit te brei.
- Om die suiwere vrymakende evangelie, wat in staat is om te red en lewens te verander, met ywer in krag van die Heilige Gees te verkondig. Ons doel is dus om die evangelie tot sy reg te laat kom, nl. om mense eers vertikaal met God te versoen en dus hul verhouding met God reg te stel. 'n Veranderde hart en nuwe lewe lei dan noodwendig tot 'n horisontale versoening en 'n gepaardgaande beter verhouding tussen mense.
- Om voortdurend te streef na vernuwing, asook varsheid van getuienis, ondervinding en boodskap, om daardeur te waak teen verval in dooie formalisme. Leersuiwerheid moet gepaard gaan met egte lewensvroomheid.
- Om hom te beywer vir die kragtige uitbreiding van die Kerk van Christus en dit word vermag deur die kinders van die Here op te roep tot ware Bybelse Heiligmaking en Vervulling met die Heilige Gees en so to te rus vir hulle dienswerk.
- Om as Kerk dinamies te wees vir tyd en om in die geestelike behoeftes en nood van mense te voorsien.
- Om 'n ware tuiste te wees vir evangeliesgesinde gelowiges wie se erns dit is om geestelik te groei en die Here te dien in 'n Evangelise-Gereformeerde atmosfeer, waarin die Heilige Gees werksaam is.
- Om elke gelowige binne die Kerk ruimte te gee om met sy/haar besondere gawes te werk vir uitbreiding van die Koninkryk van God in die wêreld, d.w.s. 'n egte belewenis vir aktiewe deurleefde Christenskap.
- Om die gemeente in die algemeen en in elke lidmaat afsonderlik effektief te versorg deur middel van persoonlike belangstelling en toegespitste ampsbediening van Leraar en Kerkraad in getroue huisbesoek en voorbidding.
- Om die getroue toepassing van die norme van die Woord van God te handhaaf.
Evangelies Gereformeerde Kerk - Geskiedenis van Tzaneen Gemeente
Stigingsdatum: 1954/1955
Geskiedkundige agtergrond:
Na 'n reeks dienste in 1954 deur di. J.K. Barnard en W. Rudolph was daar goeie belangstelling en is die gemeente in die stadsaal van Tzaneen gestig. Die gemeente het wonderlik gegroei in die beginjare.
Op die 28ste November 1970 kon hulle hul eie kergebou inwy.
Aan die einde van ds. Boet van Rensbug se bediening, 1970-1980, is Lofdal Konferensie-terrein asook 'n hele aantal boere in die Trichardtsdal se omgewing wat aan die gemeente behoort het, se plase deur die staat uitgekoop. Vir 20 jaar het die gemeente as onselfstandig gefunksioneer onder die sorg van die Sinodale Evangelisasie Kommissie van die Evangelies Gereformeerde Kerk. Ds. Coenie Smit het die gemeente in 1998 na selfstandighwording gelei, net voor sy emeritaat.
Predikante wat die gemeente bedien het:
Ds. Fanie Becker
Ds. Nico Burger
Ds. Hendrik Swanepoel
Ds. Johan Welman
Ds. Boet van Rensburg
Ds. Gawie Knox
Ds. Hannes Holtzhauzen
Ds. Albert Woest
Ds. Mannetjie van Zyl
Ds. Manie Reiners
Ds. Coenie Smit
Ds. Hendrik Janse van Rensburg




